Voorsitter se Jaarverslag

Voorsitter se Jaarverslag na die AJV gehou te Labori Estate op 26 Julie 2024, en aangebied by die dinee daarna gehou by Lemoenkloof Boetiek Hotel Paarl.

VOORSITERSVERSLAG 2023/24

UITVOERENDE OPSOMMING

Dit is vir my ‘n aangename voorreg om die Drakensteinse Sakekamer se Voorsittersverslag van 2023/4 aan u voor te lê.  Hierin word ‘n oorsig van verskeie aspekte rakende ons strukture, projekte en aktiwiteite bespreek om ons lede ingelig te hou van ons vordering.

2023 was ‘n jaar van matige herstel van die ekonomie na die pandemie en die Sakekamer groei gesond.

VISIE EN MISSIE

Ons visie is gebaseer daarop om suksesvolle netwerke te bou wat waarde kan toevoeg tot ons lede se pogings om hul besighede te laat groei vir gesonde opbrengste  uit hul beleggings.  Dit kan verseker dat broodnodige werkskepping in ons nasionale en plaaslike ekonomie plaasvind vir ‘n beter lewe vir almal in ons omgewing.   

Ons missie ondersteun ons visie in alle opsigte deurdat ons stelsels en wêreld beste praktyke toepas om diensbaar vir ons lede te wees.   

VOLDOENING

Gedurende Oktober 2023 was die Drakenstein Sakekamer omvorm tot ‘n NPC,  Drakenstein Sakekamer NPC, wat nou wetlik geinkorporeer is in terme van die beginsels van goeie bestuur soos vereis in die Maatskappywet no 71 van 2008 asook die King IV Kode vir Korporatiewe Bestuur.

Ons is behoorlik by SARS geregistreer met ‘n direksie wat verseker dat fudisiêre pligte ten opsigte van voldoening en finansiële bestuur uitgevoer word.

BVSA is aangestel as ons boekhouers en daar is reeds sedert Januarie 2024 oorgeskakel na die SAGE boekhou applikasie om finansiële adminsitrasie en verslagdoening te vergemaklik.  Danksy Melchior Engelbrecht in beheer is daar reeds goeie resultate merkbaar in ons finansiële administrasie.   

Die bogenoemde aksies is bedoel om legitimiteit en gemoedsrus vir lede te verseker dat hul ledegeld effektief en wys aangewend sal word.

Sedert 2019 het die Sakekamer voortdurend getransformeer om relevant en belyn te wees met veranderende ekonomiese tye, die politieke klimaat, nuwe tegnologieë en ook digitalisering (onlangs Webwerf, Sakekamer TV, FB, SAGE ens).   Teen 2025 sal ons ook’n werkbare CRM stelsel in bedryf stel as ‘n finale digitalisering skakel in ons administrasie.

2023 AJV VERGADERING 

Die AJV vir 2023 is gehou op 25 Julie 2024 te Labori Estate Paarl, met die volle direksie teenwoordig (Johan Rademeyer uitstedig en verteenwoordig met ‘n volmag en Dr Willie Celliers van die AHi as waarnemer) en die volgende resolusies het daaruit gevolg:

  1. Die finansiële jaarveslag soos voorgehou is eenparig aanvaar.
  2. Die huidige direksie veklaar hul bereid om tot einde 2025 te dien as direkteure.
  3. Die uitvoerende voorsitter is bereid om tot einde van 2025 in sy huidige posisie te dien om ‘n effektiewe oorgang na ‘n opvolgdireksie te verseker, waarna hy/ek gaan uittree as uitvoerende voorsitter.
  4. Nuwe portefeuljes en leiers sal vir 2025 aangewys word tydens die volgende direksievergadering wat kwartaalliks plaasvind.
  5. ‘n Nuwe operasionele begroting sal vir 2025 opgestel en ooreengekom word tydens die volgende direksievergadering vir uitvoering in 2025.
  6. Die aanbod vir gratis kantoorrruimte in Main Rd van Jawitz Eiendomme word waardeer en die geleentheid sal benut en opgevolg word.

INWAARTSE FOKUS

Soos aangedui op ons webwerf fokus ons op inlusiwiteit, integriteit en modernisering.  Ons Gedragskode kan ook besigtig word op ons webwerf wat belyn is met ons missie en visie, hoofsaaklik gebaseer op diens an ons lede.

UITWAARTSE FOKUS

Om te verseker dat uitwaarts focus, is ons geafflieer by die AHi om nasionale blootstelling te verseker en internasionaal korrespondeer ons met sakekamers van formaat soos die Greater New York se Sakekamer met 66 000 lede en UNIZO  in België met 88 000 lede om op hoogte te bly van die nuutste ontwikkelinge in  1ste wêreld lande.  Soos u miskien reeds  bewus is, was  die eerste vorm van ‘n Sakekamer, Die Hanse Liga, reeds in die jare 1300 vaardig in Noord Europa om die handel tussen handelstede daar te reël.   Hulle het die toon aangegee vir ongeveer 300 jaar voordat moderne sakekamers in die VK, Frankryk en die VSA gestig was en tot vandag voortgaan om met regerings te koukus vir ‘n regverdige bedeling vir besighede in elke streek.     

Ons Sakekamer het reeds van suksesvolle rolspelers oorsee geleen en geleer oor die afgelope jare.

MULTIDIMENSIONELE FOKUS

Dr Willie Celliers, voorsitter van die AHi, het nog nooit gehuiwer om ons Sakekamer by te staan waar kwessies bystand vereis het nie, en is altyd bereid om op kort kennisgewing sy valskerm aan te gespe en van George af in te vlieg om een van die 56 geaffilieerde sakekamers van die AHi te hulp te snel, hetsy dit provinsiale of plaaslike kwessies was.  Hy was ook instrumenteel in die vestiging van Business Western Cape wat hom daarvoor beywer om verskeie werkgewersorganisasies ingesluit landbou saam te snoer om as ‘n gesamentlike stem vir alle bedrywe  op te tree, tot op regeringsvlak.  Dr Willie het sopas 17 jaar van diens aan die George Sakekamer afgesluit en staan nou daar opsy en gaan voortaan sy energie op die AHi konsentreer.  Sy harde werk en vermoë om te dien is navolgingswaardig en dui op ons multidimensionele fokus op die saak waarvoor ons staan.  Ons loof hom vir sy jarelange toegewydheid.    

LIDMAATSKAP

Nuwe lede wat semigreer uit ander provinsies sluit voortdurend by die Sakekamer aan en Francis Nieuwoudt verwelkom gemiddeld 6 sulke nuwe lede per maand by ons.  Ilde Meyer wat einde 2023 by ons aangesluit het is besig om haar voete te vind en sy werf heelwat nuwe plaaslike lede uit haar FB gemeenskap om aan te sluit.  Ons ledetal staan tans op 245.

Dit verseker finansiële stabiliteit vir die Sakekamer om voortdurend meer dienste aan die lede te kan bied.

NETWERKGELEENTHEDE

Die maandelikse Sakekoffie netwerkgeleenthede het oor die afgelope 3 jaar gegroei tot ‘n bywoningsyfer van +- 140, groei steeds, en meer en meer transaksies word daartydens tussen lede gesluit. 

Ons jaarprogram word sterk deur lede ondersteun, julle entoesiasme word waardeer.

BEMARKING

Francis Nieuwoudt, ondersteun deur Ilde Meyer, Gretchen Marais en Nikita Rowher vorm die bemarkingspan wat Francis in staat sal stel om voortaan meer te fokus op die Kommersialisering van Sakekamer Dienste en Ledeverhoudinge.  

Ilde het uitgestaan in haar vrywillige pogings om van ons Sakekamer TV poging ‘n sukses te maak, soos u kan sien uit die kort videos wat op ons webwerf, Sakekamer FB en op die AJV vertoon word.

Ek is veral bemoedig deur ons jeugdige, groeiende bemarkingspan en die vars aanslag wat hulle bring om die Sakekamer aantreklik vir ons lede te hou.

VERHOUDINGE MET DIE PLAASLIKE REGERING

Ons bou voortdurend daaraan om ‘n goeie verhouding van vertroue met die rolspelers in die munisipaliteit te bou, die amptenary ontvang ons op ‘n professionele manier en kwessies van gemeenskaplike belang word spoedig gehanteer.  Waar daar meer ernstige kwessies  tussen lede en die munsipaliteit bestaan was dit sonder uitsondering altyd aangespreek en onderhandel totdat ‘n oplossing gevind kan word.  Johan Rademeyer, ons portefeulje leier vir die verhouding met plaaslike regering verseker dat ons op hoogte gehou word van verwikkelinge in die munisipaliteit.

AFSLUITING

Met die nasionale verkiesing verby, waar die stemgeregtigdes aangedui het wat hul keuses vir die bou van ‘n toekomstige SA is, kan ons nou voortgaan om ‘n standhoudende en inklusiewe  ekonomie te bou vir broodnodige werkskepping om ‘n beter lewe vir almal in SA en ons gemeenskap te verseker.  Ek vermoed die glas is deesdae 11% meer as half vol, en nie net half leeg vir SA se ekonomiese vooruitsigte nie.

Ek bedank ons lede vir hul lojale ondersteuning, dis julle organisasie en julle maak daarvan ‘n sukses!  Saam bou ons ‘n beter toekoms!

 

Dirk Breytenbach

Uitvoerende Voorsitter