DRAKENSTEIN SAKEKAMER IS DIE STEM VAN KLEINSAKE IN JOU OMGEWING!!!. Ons organisasie bedien die onafhanklike entrepreneurs en fokus tans skerp op die vestiging van nuwe besighede onder die jeug en vroue in samewerking met die AHi Weskaap.

Paarl se Strongmanrun SA 2018 weereens ‘n sukses!

Die 3de internasionale Fisherman’s Friend Strongmanrun SA het op Saterdag  13 Oktober weereens suksesvol in Paarl afgeloop.   2500 deelnemers  en 5000 toeskouers oral op die roete kon deel in die gees en pret van die dag.  Fisherman’s Friend Strongmanrun SA se 21km roete was deur die Europese lisensiehouer aangewys as die mees skilderagtige roete in die 10 lande wat wêreldwyd deelneem.  ‘n Gees van vriendskap en pret was oral sigbaar en eie aan Strongman wêreldwyd se credo, was almal wenners.  103 deelnemers uit Frankryk , Italië, Duitsland, Switserland, Engeland  en Amerika het deelgeneem  waarvan 6 ook aan die vorige byeenkomste deelgeneem het.  Die “Caveman”, ‘n brandweerman van Frankryk, het nou al 3 keer hier deelgeneem.  Die “Gladiator”, ‘n polisieman van Switserland, het vir die eerste keer deelgeneem en is van plan om ‘n groter groep saam te bring vir volgende jaar se byeenkoms.  ‘n Dokumentêr van die byeenkoms sal volgende jaar op 23 Januarie 2019 op Kyknet se Fiesta program te sien wees.

Paarl se internasionale krieketheld, Charl Langeveldt , het ook deelgeneem en is van mening dat deelname aan hierdie wedloop ‘n moet vir elke sportman is.

Die wenners van die 21km in ‘n rekord tyd was Siviwe Nkombi (1:33:20) en Chantel Nienaber (2:00:04). Die span kompetisie op die 15km roete tussen die Paarl Brandweer  en die SAPD was gewen deur  die Paarl Brandweer se span.  Die organiseerders voorsien dat meer spanne in die toekoms teen mekaar sal meeding veral skole.

Konstruksie maatskappye van Paarl en Kaapstad en besighede van die Drakenstein Sakekamer het weereens formidabele hindernisse gebou en die Drakenstein Munisipaliteit se mildelike steun op verskeie vlakke het verseker dat die byeenkoms inklusief deur almal geniet en suksesvol aangebied kon word.

Deur die effektiewe samewerking tussen die SAPD,  Drakenstein Verkeer, mediese dienste van Sakhisizwe First Aid en Vetus Scola se sekuriteit span was daar geen misdade aangemeld nie en kon die skare mense hul byeenkoms in veiligheid geniet.

Die beplanning vir volgende jaar se byeenkoms in die Paarl het reeds afgeskop en die lisensiehouer het die byeenkoms se kontrak in SA met nog 3 jaar verleng weens hul  tevredenheid met die gehalte van die aanbieding, Paarl se natuurskoon asook die plaaslike ondersteuning deur besighede en die munisipaliteit.

Met die goedkeuring van die Europese lisensiehouers sal die byeenkoms voortaan bekend staan as Legend Runner om te verseker dat ‘n eg Suid Afrikaanse plaaslike handelsmerk gebou kan word en verwarring met die lengte van die vorige naam en uitsluitende verwysing na “man” in Strongman uitgeskakel word.  Dit is goeie nuus vir Paarl en sal verseker dat ons sigbaarheid op internasionale toerisme forums toenemend versterk sal word.  Volgende jaar se datum is na samesprekings met organiseerders van ander belangrike byeenkomste soos die Gun Run en Foot of Africa bevestig vir 26-27 Oktober wat oor 2 dae sal plaasvind.

Vir meer inligting en besigheidsgeleenthede oor volgende jaar se byeenkoms kontak Ferdinand Rabie by 082 851 9999 of www.legendrunner.co.za