Drakenstein Sakekamer

Sakekamer Ledebyeenkoms 13 Mei 2016: Toegepreek deur Dr Johan van Deventer

 

Picture1

Die Sakekamer het weer eens ‘n suksesvolle sake ontbyt aangebied by Vendôme Wines.  Soos gewoonlik was die opkoms uitstekend ondersteun deur lede en belangstellendes.  Peaches and Cream se ontbyt was uit die boonste rakke.

Die hoogtepunt van die oggend was Dr Johan van Deventer Besturende Direkteur van Freshmark (Shoprite) se inspirerende toespraak wat gehandel het oor “Besigheid in moeilike tye”.  Sakemanne opereer tans in uitdagende tye weens inflasie druk, krimpende ekonomie, stygende rentekoerse, politieke onstabiliteit en die invloed van die droogte op alle vlakke van besigheid en die verbruikers omgewing,  Dr van Deventer het die gehoor egter verseker dat alles nie verlore is nie en dat besighede sekere strategiese stappe kan neem, om hierdie faktore effektief te bestuur.  Hy het van sy ondervindinge en wenke gedeel met ons:

  • “Huidiglik is dit nie besigheid soos gewoonlik nie”.  Her-evalueer/Orienteer van nuuts af en sit ‘n nuwe plan op die tafel vir die “stemtye”
  • Goeie tyd om nou ‘n “voorraad opname te doen/gaan sit op ‘n klip.” – Jy en jou span.
  • Gaan terug en vra: “Hoekom het ek die besigheid?”
  • Wat laat my nog “tick”? En “tick” my span saam?
  • Vergeet nooit dat jy in die “mense” besigheid is en nie met outomate werk nie
  • Wat “energize” my en my spanlede? Ken jy dit en bestuur jy jou mense ooreenkomstig?  Sover moontlik elkeen volgens sy sterkpunte wat hom laat glinster!
  • Lewe jou passie nog vir jou besigheid?
  • Spoel jou passie oor na jou mense toe?
  • Onthou alles begin by jou– (kyk in die spieël) – jy is die leier en moet die pas aangee.
  • Lippediens werk nie – jy moet dit wys – eet/leef/slaap jou besigheid. (Jy moet in die oggend wakker skrik en nie wakker word nie.)
  • Jy beoordeel jou mense, maar hulle beoordeel ook vir jou – woorde wek maar voorbeelde trek!
  • Mense hou daarvan om weekliks/maandeliks gemeet te word, nie NET jaarliks tydens die verhoging nie – regdeur die jaar moet jy goeie werk beloon en afwykings aanspreek en reg maak.
  • Jy kan nie bestuur wat jy nie meet nie – skeduleer ‘n vaste tyd per week/maand vir terugvoering oor doelwitte wat gestel is en of dit bereik word of nie. Watter aksie is nodig om koers te hou – bly dit monitor en gee hulp waar nodig.
  • Ontleed die invloed van moeilike tye op jou besigheid en DEEL dit met jou personeel tot op die laagste vlakke, laat dit toe om in te sink – open dan ‘n bespreking – beplan dan gesamentlike uitkomste om die situasie aan te spreek en meet vordering en gee terugvoering.
  • Keer terug na die Basiese – Wat het jou besigheid laat ontstaan?  Hoekom was dit suksesvol? Doen ‘n SWOT analise, breek op in groepe vir bespreking en jy sal verbaas wees oor die insig wat jou personeel het oor die situasie en hoe hulle dit ervaar en wat hulle aan die hand doen vir oplossings (Topbestuur moet werklik nie aan hierdie besprekings deelneem nie – net aan die terugvoering en dan die plan vorentoe.
  • Sinchroniseer verwagte uitkomste en beplande aksies om gefokusde resultate te bereik (Bestuur sê X en laer vlakke sê Y? – pasop daarvoor!) Julle moet op dieselfde bladsy wees.
  • Besluit of dit tyd is om te krimp of uit te brei
  • Moeilike tye bied ook baie geleenthede bv. oornames, uitbreiding van produklyne, nuwe dienste, behandel kliënte op nuwe maniere, moenie dink moeilike tye is net slegte nuus nie – wees wakker vir die geleenthede.
  • Die kliënt is en bly die “baas”:

              Ken jy jou kliënte?  Ken jy hulle regtig?  Weet jy hoekom hulle by jou koop?

              Ken jy hulle verwagtinge?   Het dit dalk verander?

              Is jy nog in voeling? Sien hulle jou op die vloer – is daar interaksie?

  • Het vandag ‘n magtige sosiale media – GEBRUIK dit!
  • Sny kostes – gaan terug na die tyd en beginsels toe jy begin het – beperk uitgawes en luukshede
  • Moenie op bemarking spaar nie – dit is nou juis die tyd om te bemark!
  • Wees op die vloer en naby jou kliënte – jy kan nie van agter ‘n rekenaar of vanuit ‘n luukse kantoor bestuur nie!!!
  • Bly weg uit raadsale/vergaderings – 30 minute maksimum. Hou sommer die raadsaal se sleutel in jou laai.
  • As jy die bogenoemde toepas, maar more werk jy weer soos gister – moenie ander uitkomste of resultate verwag nie! Moeilike tye verg werklike, nuwe en ander aksies.
  • Bestuur is nie daar om die besigheid te bestuur soos dit is nie … maar soos wat dit kan wees.
  • Moenie in moeilike tye soos ‘n verloorder begin lyk en aanmekaar net kla nie (jy en jou personeel) mense assosieer met WENNERS en mense wat kan oorleef – wees een van hulle!
  • Behou ‘n goeie en positiewe gees al gaan dit moeilik.

Met die besnoeing van uitgawes”

ONTHOU NET VALKE VANG NIE VLIEË NIE” moet tog nie tyd en energie mors om teesakkies, melk en toiletpapier te wil spaar nie!  Spaar waar dit saak maak.

 Opsommend;

  • Moeilike tye? Meet dit – pas aan – verander rigting waar nodig
  • Keer terug na die basiese – waar kliëntesorg kardinaal is.
  • Neem jou span saam met jou – nie die tyd om te blameer en beskuldig nie, maar die teenoorgestelde – moeilike tye kan uitdagend wees en kan ‘n span nader aan mekaar bring as die leier sterk rigting gee en vasvat!
  • Dis aanvaarbaar dat mense ook vra: wat is in dit vir my? (Bonusse, winsdeling).  “Talk is cheap … but money buys the whiskey.”

Dr van Deventer se ervaringe was as hoogs relevant deur die gehoor ervaar en kan as handige riglyne dien vir oorlewing van besighede in die stram ekonomiese siklus waardeur SA en die wêreld tans gaan.