Drakenstein Sakekamer

Die agt ekonomiese aanwysers om dop te hou in 2017

Sal 2017 ’n beter jaar vir Suid-Afrika se ekonomie wees?

Dit is die vraag op alle Suid-Afrikaners se lippe, en in ’n poging om ’n antwoord hierop te verskaf, het prof Danie Meyer en dr André Mellet, albei akademiese personeellede binne die Fakulteit Ekonomiese Wetenskappe en Inligtingstegnologie aan die Noordwes-Universiteit se Vaaldriehoekkampus, die volgende insig ten opsigte van agt belangrike ekonomiese aanwysers verskaf.

  • Bruto binnelandse produk (BBP)

Die verwagte wêreldwye BBP-groei sal in 2017 gemiddeld 2,9 persent wees, terwyl die verwagte BBP-groeikoers vir Suid-Afrika, soos deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) vir 2017 voorspel word, 1,4 persent is. Volgens Meyer en Mellet kan die groeikoers in werklikheid meer konserwatief op tussen 0,7 en 1,2 persent wees as huidige makro-ekonomiese toestande in ag geneem word. Hierdie voorspelde groeikoerse is steeds relatief laag, hoewel daar verwag word dat 2017 ’n marginaal hoër groei as die 0,6 persent in 2016 sal toon. Om werk op ’n groot skaal te begin skep, het Suid-Afrika ’n groeikoers van ten minste 3 persent nodig, en daarom word daar verwag dat die werkloosheidskoers in 2017 tot net onder die 28 persent sal bly groei.

  • Inflasie

Aan die einde van 2016 was inflasie bokant die SARB se teiken van 3–6 persent. Die inflasiekoers vir Desember is op 6,8 persent beraam, terwyl die inflasiekoers vir 2016 ’n gemiddelde van 6,4 persent getoon het. Die inflasievoorspelling by die laaste vergadering van 2016 van die SARB se monetêre beleidskomitee vir 2017 was 5,8 persent. Die implikasie van die inflasievlak in die boonste teikenvlak is dat die monetêre beleid streng sal bly, en die moontlike verlaging van rentekoerse in 2017 is onwaarskynlik. ’n Paar faktore sal voortgaan om ’n rol in die bestuur van die inflasiekoers in 2017 te speel, insluitende die vlak en stabiliteit van die wisselkoers, produksiekoste, arbeidskoste, die impak van die droogte op voedselproduksie en die vlak van ekonomiese groei in die land. Daar word verwag dat inflasie gedurende 2017 bokant die 6%-vlak sal bly en druk op die SARB sal plaas om rentekoerse te verhoog.

  • Rentekoerse

Die vlak van die rentekoers in SA hou direk met die inflasiekoers verband. Die SARB se mikpunt is om ’n positiewe reële opbrengskoers te verseker. Dit beteken dat die repokoers (tans op 7%) en die geldmarkkoers altyd hoër as die inflasiekoers moet wees. Om dus enige voorspelling ten opsigte van die rentekoersvlak vir 2017 te maak, moet die inflasiekoers vir 2017 eers ontleed word. ’n Paar faktore speel ’n belangrike rol in hierdie opsig, naamlik die huidige kostedrukfaktore wat die inflasiekoers naby aan die boonste teikenkategorie van 6% hou, die rentekoerse wat deur die SARB gemanipuleer moet word om die tekort op die lopende rekening te finansier, en laastens is die monetêre beleidsontwikkelings in Europa en die VSA van die uiterste belang vir SA omdat dit ’n impak op die positiewe marge van rentekoerse het wat die SARB in staat stel om buitelande beleggings te lok. Die Federale Reserwebank in die VSA het laat in 2016 ’n duidelike aanduiding gegee dat hulle rentekoerse in 2017 ongeveer drie keer gaan verhoog. Dit is dus heel waarskynlik dat die beweging van rentekoerse in SA in 2017 marginaal boontoe gaan neig.

  • Wisselkoers (R/US$)

Sedert Nenegate in Desember 2015 toe die rand vinnig teen die US$ gedepresieer het, het die rand egter gedurende 2016 herstel tot ’n huidige vlak van R13,51 per US$. Hierdie terugvegpoging van die rand gedurende 2016 het tot ’n 23% waardevermeerdering van die geldeenheid gelei. Die waarde van die rand teen die US$ is egter steeds wisselvallig. Die belangrikste aspekte wat ’n negatiewe impak op die geldeenheid kan hê, is die moontlike afgraderings deur graderingsagentskappe, en politieke onstabiliteit in Suid-Afrika. Daar word verwag dat die geldeenheid gedurende 2017 effens sal terugsak en aan die einde van die jaar teen tussen R13,60 en R14,50 teen die US$ sal verhandel.

  •  Internasionale handel en lopende rekening

Die tekort op die lopende rekening vir die derde kwartaal van 2016 geannualiseer was -R176 miljard. Dit is ’n totaal van 4,1% van die BBP. Die internasionale norm is dat die tekort nie meer as 3% van die BBP moet wees nie. Die lopende rekening van die betalingsbalans weerspieël die invloei en uitvloei van geld van Suid-Afrika vergeleke met die wêreld. Die handelsrekening wat invoere en uitvoere weerspieël, word by die lopende rekening ingesluit. As die lopende rekening ’n negatiewe syfer toon, moet dit deur buitelandse geld gefinansier word. Hierdie lenings en beleggings vanaf die buiteland word in die finansiële rekening van die betalingsbalans weerspieël. Om buitelandse beleggings te lok, moet die SARB rentekoerse volgens die ontwikkelings in die buiteland aanpas om seker te maak dat die rentespektrum in SA gunstig genoeg is om genoeg kapitaal te lok om die tekort op die lopende rekening te finansier. Die tekort wat vir 2017 deur die SARB voorspel word, is 4,3% van die BBP. Die implikasie van hierdie groeiende tekort is dat rentekoerse in 2017 behoort te styg om die tekort te finansier, eerder as wat dit sal daal om die ekonomiese groei te stimuleer.

  • Kommoditeitspryse

Kommoditeitspryse het gedurende 2016 wêreldwyd ’n algemene marginale verbetering getoon en daar word verwag dat dit onder die huidige ekonomiese toestande in 2017 sal voortduur. Steenkool- en goudpryse het met 12,3% en 7,6% onderskeidelik vanaf 2015 na 2016 toegeneem, terwyl aluminium-, koper- en landboupryse gedurende die tydperk stabiel was. Ten opsigte van staalpryse het hierdie kommoditeit in 2016 meer waarde verloor vanaf ’n hoë prys in 2011 van $749/ton tot $365/ton in 2016. Die prys daal steeds en is hoofsaaklik die gevolg van die ooraanbod van staal deur China. China het egter aangedui dat hulle die produksie van staal sal verminder, aangesien hulle ekonomiese groei gedurende 2016 verlangsaam het. Hierdie moontlike daling in produksie behoort die lewering van staal wêreldwyd te verminder, wat in 2017 tot ’n verwagte styging van tussen 5 en 8% in die prys van staal kan lei.

  • Olie- en petrolprys

Twee faktore beïnvloed die petrolprys in SA: eerstens die prys van Brent-ruolie in die internasionale mark, en tweedens die rand/US$-wisselkoers. Die prys van Brent-ruolie het in die tweede helfte van 2016 in ’n nou band tussen $45 en $50 per vat verhandel. Die prys het egter aan die begin van Desember 2016 beduidend met ongeveer $10 tot op die huidige vlak van $55 gestyg. Die hoofrede vir hierdie styging is die manipulering van die voorraad olie in die internasionale mark deur belangrike rolspelers soos OPEC om hoër pryse te fasiliteer. Hierdie druk om die voorraad te verminder, is teëgewerk deur Iran wat meer olie uitgevoer het nadat die sanksies opgehef is. Die voorspelling deur die SARB vir 2017 is rondom die huidige vlakke. Daar word verwag dat oliepryse tot net onder $70 per vat, of tot ’n 20%-styging, sal verhoog. Daarom word daar verwag dat plaaslike petrolpryse gedurende 2017 ook beduidend met meer as 10% sal styg. Dit kan ’n groot negatiewe impak op inflasie hê (navorsing dui aan dat elke toename van ’n rand in die petrolprys tot ongeveer ’n 0,4% styging in inflasie kan lei). Ons het reeds sedert Januarie 2017 beduidende stygings in die petrolprys ervaar en meer stygings word in Februarie 2017 verwag.

  • Politiek

Politiek en die ekonomie is onderling verwant en kan nooit in isolasie gesien word nie. ’n Onstabiele politieke jaar word regdeur 2017 verwag, wat met die ANC se verkiesingskonferensie in Desember 2017 gaan afsluit. Hierdie onstabiliteit sal sakevertroue beïnvloed en dus ’n negatiewe impak op die ekonomie hê. Nog iets van belang is die onsekerheid van die impak van die nuutverkose president van die VSA, president Trump, en sy leierskapstyl op die wêreldekonomie. Die vooruitsig is dus negatief, met onstabiliteit ten opsigte van politiek wat ’n negatiewe op die ekonomie kan hê.

Bestuursopsomming: Daar word verwag dat die belangrikste ekonomiese aanwyser, naamlik BBP-groei, vir 2017 rondom 1% gaan huiwer, wat te laag is om ’n beduidende aantal werksgeleenthede te skep. Daar word verwag dat inflasie bokant 6% gaan bly, hoofsaaklik as gevolg van kostedrukfaktore, terwyl rentekoerse waarskynlik marginaal sal styg. Die petrolprys sal na verwagting gedurende 2017 met meer as 10% gaan styg. ’n Polities-onstabiele jaar word voorspel, wat ’n negatiewe impak op die ekonomie gaan hê.