COVID 19 2de vlaag van besmetting en verdere inperking!

Wat nou? Die ekonomiese gevolge van COVID 19 se aanvanklike uitbraak was gedurende 2020 struktureel verwoestend wat sosio ekonomies welstand vir alle Suid Afrikaners betref. Die volgende vlaag van COVID 19 besmettings in SA is nou amptelik in volle swang en daar word gevrees dat verdere ekonomiese verval ons voorland is. Die ekonomiese gevolge van die aanvanklike uitbraak is nog vars in ons geheue en ons word genoop om weereens te veg teen ekonomiese verval met veral wydverspreide werkloosheid wat die mense op grondvlak wreed konfronteer. “Brood op die tafel” is nie net meer ‘n ekonomiese of politiese gonswoord nie, dis nou ‘n nare werklikheid in miljoene huishoudings. Aanvanklik het die regering die weerloses in ons samelewing gesteun met WVF toelaes en sagte lenings aan KMO besighede. Dit het tydelike verligting gebring en en werkloses kon kos op die tafel hou terwyl staats- en munisipale amptenare ook hul volle salarisse ontvang het. Burgerlike organisasies het ‘n pertinente rol gespeel om weerloses by te staan wat dui op veerkragtigheid en sosiale verantwoordelikheid in ons gemeenskap. Dit was egter nie volhoubaar nie en het nie langtermyn voordele meegebring nie.

Tot op hede was die bestaande maatreëls van sanitering, dra van maskers en sosiale distansie die effektiefste vorms van beperking van die verspreiding van die onsigbare virus en behoort dit nou weereens met ywer toegepas te word. Dit en ander maatreëls om samedromming by groot byeenkomste soos sport en kerk bywoning te beperk, het ‘n diepgaande negatiewe sielkundige en ekonomiese effek op lede van die gemeenkap wat verbruikers van ekonomiese goedere is, gehad. Hierdie maatreëls en die ekonomiese gevolge daarvan het die plaaslike ekonomiese lewe amper heeltemal tot stilstand gedwing in die eerste ronde van besmettings. Gevolglik was die weerloses in ons gemeenskappe wat op daaglikse arbeid staatmaak ook die swaarste getref en sal dit weer die geval wees. Besighede, veral KMOs, het die ekonomiese tsunami van die eerste ronde van besmettings net-net oorleef en die huidige ekonomiese aanwysers asook resultate van groot genoteerde maatskappye was matig positief. Kan dit volgehou word in die volgende fase van die COVID 19 pandemie?

Die WGO is van mening dat gaffekteerde lande geen ander keuse het as om omvattende maatreëls in te stel om verspreiding van die virus te beperk nie, asook om weghol brandpunte van besmettings hok te slaan.

Weens die ekonomiese ressessie, ‘n reeds siek ekonomie en endemiese werkloosheid wat reeds voor COVID 19 kop uitgesteek het was die pandemie onvoorsien en was die wȇreld onvoorbereid op wat op ons gewag het. Rondte een van die uitbraak het veroorsaak dat ons ekonomie in 2020 met +-7% sal krimp, duisende poste in die plaaslike en nasionale drankbedryf is reeds verlore. Die totale verlies aan werksgeelenthede landwyd staan na raming reeds op ongeveer 3 miljoen en die verlies aan inkomstebelasting word reeds deur die fiskus gevoel. Die uitkringende negatiewe effekte van die pandemie sal in 2021 steeds voortwoed en kenners is van mening dat dit eers in 2022 sal begin afneem waarna ekonomiese herstel en voorspoed weer merkbaar sal word.

Die ekonomie kan nie weer ‘n harde inperking deurstaan nie en ons kan net staatmaak op koelkoppe in die regering en samewerking van sake-en gemeenskapsleiers om ‘n balans te handhaaf tussen die ekonomiese oorlewing en die fisiese welstand van mense. Daar was sover wel absurde  regulaies soos die rook en alkohol verbod wat meer skade as goed gedoen het,  onnodige mishandeling deur wetstoepassers en nou weer die sluiting van sekere strande, maar oorhoofs het die regering tot dusver daarin geslaag om die besmettingskoers se kurwe laag te hou.  Met die nuwe mutasie in die rondte is daar nuwe uitdagings vir ons wetenskaplikes maar volgens alle aanduidings maak dit nie die nuwe entstowwe ongedaan nie.  Daar kan egter nie sprake wees van oorgawe of apatie nie, ons sal weer ‘n haas uit die hoed moet trek soos by vorige krisisse wat aangeteken staan in die geskiedenis van die wȇreld.

Ons staan nie alleen nie, saam sal ons oorwin, kom ons maak nuwe planne en skep nuwe geleenthede wat tot voordeel van almal in ons gemeenskap sal strek! Ondersteun assseblief die volgehoue reiniging van hande, handhawing van veilige afstande van mense af en dra maskers in die openbaar.  Die Drakenstein Sakekamer wens almal ‘n gesonde en voorspoedige 2021 ekonomiese jaar toe.