Drakenstein Sakekamer

Agri Weskaap oor die droogte..

In ‘n onlangse onderhoud van Maroela Media met  Carl Opperman, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, is dit duidelik dat die droogte in die Wes-Kaap besig is om kritieke afmetings aan te neem, nie net vir die stad Kaapstad nie, maar die landbou is ook diep in die knyp

“Selfs al raak die damme weer vol en grondwater is weer soos dit moet wees, gaan dit nie die probleem oplos nie. Die waterbehoefte in die Wes-Kaap styg, en die landbou, met die kleinste gedeelte van die watertoediening, het sy deel nodig,” sê Carl Opperman, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap.

“Agri Wes-Kaap het reeds in Oktober 2015 gewaarsku dat die Wes-Kaap op ʼn waterkrisis afstuur wat dringend bestuur moet word. ʼn Geruime tyd het intussen verloop waar daar doeltreffend op die waarskuwing ag geslaan en doeltreffende planne ingestel kon word.”

Opperman het gereageer op navrae van Maroela Media oor die uitwerking van die inperking van besproeiingswater om meer water vir die dorstige Kaapse metropool te bekom.

“Die provinsie se water moet beter bestuurstatus kry sodat die Wes-Kaap nie voortaan in soortgelyke situasies as tans beland nie. Ons is besig om ons ondergang te bestuur soos wat water tans bestuur word. Ons is nou in ʼn erger posisie as dieselfde tyd verlede jaar, en as ons nie binnekort goeie reën kry nie, gaan dit nóg erger raak. Die behoefte aan water in die provinsie is enorm, maar ons sien nie ʼn waterplan om almal te help nie: alle industrieë, die totale ekosisteem, alle munisipaliteite, landbou, almal. Die departement van water en sanitasie het nie ʼn werkbare plan wat ingestel kan word nie.

“In die Wes-Kaap is landbou se bruto-waardetoevoeging R18,6 miljard per jaar. Die Wes-Kaap produseer meer as 50% van Suid-Afrika se landbou-uitvoer, met die Europese Unie as een van die grootste bestemmings, en amper 75% van die buitelandse wynverkope van meer as R5 miljard. Landbou dra nasionaal ongeveer 2% tot die BBP by, en die Wes-Kaap se gedeelte van hierdie 2% is 22,6%, want ons produseer hoëwaarde-uitvoergewasse.

“Die Wes-Kaap se landbou-vooruitsigte kan drasties verbeter as ons nog harde reënbuie kry om ons damvlakke drasties te lig. Die afgelope winterreën het weer nie die watervoorraad gelewer soos wat dit moes wees nie.

“Die watertekort is enorm en die verbruiker moet dit weet, want dit raak die verbruiker ook. Agri Wes-Kaap is bekommerd oor die uitwerking wat die droogte op lang termyn op die provinsie se sterk uitvoerbedrywe gaan hê wat water kritiek nodig het vir produksie, soos ons graan-, wingerd- en vrugtebedrywe”.